In Maart 1926 kom die destydse
Nasionale Boekhandel en die Suid-Afrikaanse regering van die tyd ooreen om
’n eentalige, verklarende woordeboek van ongeveer die omvang van die
destydse Nederlandse Van Dale (’n eendelige werk) daar te stel. Dr.
J.J. Smith, professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch,
word as redakteur aangewys en onderneem om binne drie jaar dié taak te
voltooi.
Gou blyk dit egter
dat drie jaar vir die afhandeling van só ’n reuse-taak gans te min is.
Toe dit blyk die woordeboek sal onmoontlik betyds voltooi word, neem die
Universiteit van Stellenbosch Nasionale Boekhandel se deel van die
kontrak oor en stel ’n ewe onrealistiese teiken om die woordeboek binne
vyf jaar die lig te laat sien. Weer gebeur dit nie.
Eers ná ongeveer twintig
jaar se werk aan die woordeboek lê prof. Smith die tuig neer. In 1947 word hy as
hoofredakteur opgevolg deur dr. P.C. Schoonees, ’n skoolhoof van Vryheid. Die
doel om ’n handwoordeboek saam te stel, word laat vaar, en in die plek daarvan
die visier gestel op ’n omvattende bron wat, soos die The Oxford English
Dictionary vir Engels en die Woordenboek der Nederlandsche
Taal vir Nederlands, die “volledige” Afrikaanse woordeskat moet opteken
en verklaar.
Onder Schoonees se leiding
verskyn die eerste deel van die nuwe Woordeboek van die Afrikaans Taal
(die WAT) (A–C) in 1951, die tweede deel (D–F) in 1955 en die
derde deel (G) in 1957. Teen dié tyd is dit duidelik dat die woordeboek vorder,
maar dat dit etlike dekades sal duur om dit tot by z te voltooi.
HAT1
Die uiteinde is dat in die
jare vyftig opnuut besluit word om, gelyklopend met die omvattende werk, ook ’n
"hand-" of "standaardwoordeboek", ’n Verklarende Handwoordeboek van die
Afrikaanse Taal (die HAT), aan te pak.
Schoonees aanvaar die
uitdaging om in sy eie tyd ook dié taak te onderneem. Maar ten spyte van sy
geesdrif is dit nogmaals duidelik: Om binne ’n kort tyd van nuuts af ’n
handwoordeboek saam te stel, is vir een mens ’n baie moeilike, selfs onmoontlike
taak! Met die hulp van C.J. Swanepoel, ’n redaksielid van die WAT, vorder die
werk ’n raps vinniger; dr. S.J. du Toit, nog ’n lid van die WAT se redaksie,
word as derde redakteur bygebring; en nog later ’n Afrikaansonderwyser, C.
Murray Booysen.
In 1965, veertig jaar
nadat die eerste saadjie geplant is, verskyn die eerste uitgawe van die
Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT)
onder dié viermanskap se name.
Die uitgewer van
HAT1 is Voortrekkerpers, wat enkele jare later met die Afrikaanse Pers
Boekhandel verenig om Perskor te vorm. By Perskor sien die tweede en derde
uitgawe van die HAT die lig. HAT4 (steeds onder die druknaam
Perskor) en HAT5 word uitgegee deur Pearson Education Suid-Afrika, ’n
afdeling van Maskew Miller Longman, waarby Perskor in die laat 1990’s ingelyf
word.
HAT2
In 1971 vra Perskor
Francois F. Odendal, professor in Afrikaanse en Nederlandse taalkunde aan die
destydse Randse Afrikaanse Universiteit en voorsitter van die Suid-Afrikaanse
Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, om die redakteurskap van die
HAT oor te neem. Odendal aanvaar die uitdaging en van 1972 tot 1979,
agt jaar lank, bewerk hy die woordeboek grondig.
Vir die tweede uitgawe,
wat in 1979 by Perskor verskyn, brei Odendal die woordeboek met ongeveer 50% uit
en stel ’n werklik hersiene uitgawe daar. Naas byvoegings word definisies
gewysig, argaïese woorde en betekenisse geskrap, veral ook woorde en betekenisse
wat eerder Nederlands as Afrikaans is. Nog ’n aspek wat spesiale aandag kry, is
die uitbreiding en verbetering van voorbeeldsinne, aangesien woorde binne
sinsverband hul betekenis duideliker laat blyk as ’n blote definisie.
Dit is gou duidelik dat
die HAT die mark verower het en deur Afrikaansgebruikers as
gesaghebbend aanvaar word. In die tagtigerjare neem die HAT sy plek in
huise, skole en universiteite, asook in regeringskantore en by sakelui in. Van
besondere belang is dat die HAT by die bepaling van die betekenis van
’n woord in hoër en laer howe as outoriteit aanvaar word. Ook dat koerante en
briefskrywers aan koerante, waar dit oor die betekenis van ’n woord gaan,
gereeld die HAT as gesaghebbende bron aanhaal.
HAT het ’n
huishoudelike naam geword.
|
HAT3
HAT3 verskyn in
1993 en word selfs nog gunstiger as HAT2 ontvang. In die laat jare
negentig verskyn daar van HAT3 ook ’n elektroniese uitgawe – die eerste
Afrikaanse woordeboek op CD-ROM.
Die omvang van die
woordeboek word met ’n verdere 30% vergroot. Nog argaïese woorde word geskrap,
en in die besonder word aandag gegee aan etikette (wat daarop neerkom dat 'n
woord sonder etiket as Standaardafrikaans beskou word). Gebruiksvoorbeelde word
vermeerder en aangevul met sitate uit werke van Afrikaanse skrywers. Hierdeur
word erkenning gegee aan die hoë gehalte van die Afrikaanse letterkunde en die
belangrike bydrae van Afrikaanse skrywers tot die uitbouing van Afrikaans. Soos
in die vorige uitgawes kry vaste uitdrukkings en spreekwoorde ook besondere
aandag.
HAT3 is die
eerste Afrikaanse woordeboek waarin die samesteller ’n behoorlike uiteensetting
probeer gee van die werkwyse wat gevolg is en die teoretiese beginsels waarop
dit berus.
HAT4
Om te verseker dat die
HAT in bekwame hande bly, stel Perskor ná die verskyning van die derde
uitgawe ’n tweede redakteur aan, Rufus H. Gouws, professor in Afrikaanse
taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, wie se status as teoretiese en
praktiese leksikograaf hom ’n onbetwiste leier as woordeboekkundige maak.
Die toegelate tyd maak ’n
indringende hersiening van HAT3 onmoontlik, derhalwe verdeel die twee
redakteurs vir HAT4 die alfabet in gelyke dele tussen hulle: Odendal
bewerk die eerste en Gouws die tweede deel. Argaïsmes word geskrap; talle nuwe
woorde, onder meer rekenaarterme, en nog meer aanhalings word bygevoeg; en
etikette word verfyn. ’n Diagram wat die uiteensetting van artikels illustreer,
kom by as deel van die voorwerk.
HAT4 verskyn
in 2000 by Pearson Education Suid-Afrika.
HAT5
Vir HAT5 neem die
redakteurs opnuut elk ’n helfte van die woordeboek: Gouws die eerste deel en
Odendal die tweede deel. Van die aspekte wat aandag kry, is uitbreiding van die
etimologieë, ’n verbeterde artikeluitleg, uitbreiding en verskuiwing van die
afkortings na ’n spesiale afdeling agter in die boek, byvoeging van ’n afdeling
geografiese name met hulle afleidings, verdere verfyning van etikette, ’n
voorteks met gebruiksleiding en voortgesette aandag aan geskikte aanhalings.
Verder word nog “vreemde” maar gebruiklike woorde opgeneem en ook woorde uit
ander variëteite as Standaardafrikaans.
HAT5 is ook die
eerste uitgawe waarvan die woordkeuse gegrond is op ’n verteenwoordigende
elektroniese korpus.
By die bekendstelling van
HAT5, op 14 September 2005 op die Spier-landgoed buite Stellenbosch,
wat ook saamval met die veertigste viering van die eerste verskyning van die
HAT in 1965, word Odendal vir sy meer as 30 jaar lange verbintenis en
toewyding aan die woordeboek gehuldig en word daar van hom afskeid
geneem.
Gouws bly aan om aan
die sesde uitgawe mee te werk.
HAT6
In Oktober 2007 word Jana
Luther, onder meer voormalige senior redakteur van die Pharos
Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en mederedakteur van die
Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek, deur Pearson
as uitgewer en eerste interne HAT-redakteur in die plek van Odendal
aangestel.
In Maart 2009 word saam
met die derde druk van HAT5 ’n CD-ROM – e-HAT 2009 – bekend
gestel. Dié elektroniese woordeboek bevat die volledige alfabetiese lys,
afkortingslys en lys geografiese name met afleidings van die vyfde uitgawe van
die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (vanaf dié derde
druk met nuwe omslag word die titel tot Handwoordeboek van die Afrikaanse
Taal verkort).
In Augustus 2012 stel
Pearson vir Fred Pheiffer as die tweede interne redakteur van die HAT
aan. Hy was voorheen mederedakteur van die Pharos
Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en hoofredakteur van die
Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek. Die afgelope
paar jaar werk hy as projekbestuurder aan die Oxford Bilingual School
Dictionary: isiZulu and English en as mederedakteur aan die Oxford
South African School Dictionary en die Oxford Afrikaanse
Skoolwoordeboek.
Die nuwe, sesde,
verbeterde en omvattend hersiene uitgawe van die HAT as spieël van
eietydse Afrikaans het in Julie 2015 by Pearson verskyn.
|